Kiwiboer louwrens van der merwe immigrasie na new zealand

navigation bar kiwiboer louwrens van der merwe

Navigation bar 2 Kiwiboer Louwrens van der Merwe

flight center

MICHELLE CLARKE

Phone:  + 64 9 478 6288
Mobile:
 + 64 21 609 141
Michelle.Clarkeflightcentre.co.nz

LSD-TOERE NA NEW ZEALAND

KOM KLIM AF EN BEGIN TOER !! - Dis so maklik wat dit is!! Ons tref al die reëlings tussenin en neem al die sorge uit jou "kom kyk" toer na New Zealand. Kom geniet dit net en los die res aan ons oor!

 

 

HOE IS NEW ZEALAND?

 


My eerlike mening is dat NZ soos 'n dronk man is wat oppad huistoe is na hy lank en lekker by die kroeg gekuier het - Een treë vorentoe en twee treë terug en dan weer twee treë vorentoe en een tree terug en tussenin strompel hy sywaarts, maar eintlik gaan hy nêrens heen nie.

 

Elke paar jaar kom daar 'n ander regerig aan bewind wat die land in die teenoorgestelde rigting sleep as die vorige regering en intussen veroorsaak die verkiesingstelsel dat die hele regering soms deur 'n politieke partytjie geregeer word wat net 5 lede in die parlement het!


Kiwiboer immigrasie na New Zealand


OP HIERDIE BLAD:

 

Bullet Black Paradys met 'n kinkel

Bullet Black Gesindheid en vooruitgang

Bullet Black Lewenskoste

Bullet Black Die weer

Bullet Black Dagligbesparing

Bullet Black "Nanny State" en "Tall Poppies"

Bullet Black Paaie en Infratruktuur

Bullet Black Misdaad in NZ en misdaadstatistiek

Bullet Black Mediesedienste

Bullet Black Tande

Bullet Black Beserings

Bullet Black Pensioen

Bullet Black Pos en telekommunikasie

Bullet Black Omskakeling van SA Bestuurderslisensies

Bullet Black NZ Muurproppe

Bullet Black Cadac gasbottels uit SA

Bullet Black Kinders

Bullet Black Versekering

Bullet Black Trek jou skoene uit

Bullet Black Beheer by lughawens

Bullet Black Kiwi woorde

Bullet Black TV-Kanale

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

PARADYS MET 'N KINKEL

NEW ZEALAND is beslis nie na almal se smaak nie en NZ is BESLIS 'n dis wat met 'n allergie-waarskuwing opgedien moet word!!

Baie kere as ek die bemarkingsmateriaal van NZ lees wat vir voornemende immigrante voorgehou word dan wonder ek of ons op dieselfde "drugs" is?? Ek is seker hulle is op 'n sterker perskripsie as ek!
 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

DIE EEN EN ANDER OOR NZ

 

immigrasie new zealand Flag Bullet New Zealand is ongeveer 2000Km oos van Australië en hulle word geskei deur die Tasmansee.
immigrasie new zealand Flag Bullet Die bevolking van NZ is 4.3 Miljoen
immigrasie new zealand Flag Bullet Suid-Afrika is ongeveer 4.5 keer groter as New Zealand.
immigrasie new zealand Flag Bullet New Zealand sal amper 29 keer in Australië kan ingaan!!
immigrasie new zealand Flag Bullet New Zealand bestaan uit twee groot eilande (Noord-Eiland en die Suid-Eiland wat bekend staan as die "Mainland").
immigrasie new zealand Flag Bullet Die hoofstad is Wellington.
immigrasie new zealand Flag Bullet Die Twee eilande word deur die "Cook Strait" geskei wat op sy nouste 20km is.
immigrasie new zealand Flag Bullet
Twee derdes van die bevolking bly in die Noord-Eiland met ongeveer 1.1 miljoen in Ackland. Van die bopunt van die Noord-Eiland tot die onderpunt van die Suid-Eiland is dit 1600Km (van Kaapstad tot by Beitbrug is dit 1948Km).
immigrasie new zealand Flag Bullet Daar is ongeveer 48 miljoen skape en 4 miljoen beeste in NZ.
immigrasie new zealand Flag Bullet Na raming is daar ongeveer 45 000 Suid-Afrikaners in New Zealand.
   
Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

GESINDHEID & VOORUITGANG

Die ding of saak waaroor Kiwi's nie kla nie is nog nie uitgevind nie (amper soos Suid-Afrikaners)!! Hulle sal oor ENIGIETS kla of beswaar maak en selfs die onbenulligste goed (vir ons) sal die TV-nuus haal en vir dae daarna nog bespreek en uitgepluis word. Hulle besit die vermöe om oor alles en ENIGIETS 'n moerse "issue" te maak. Kom kyk maar self. Dit wil 'n mens soms teen die mure uit dryf dat hulle so "narrow-minded" kan wees en 'n mens maak moeilik vrede daarmee. Jy leer maar om dit te verdra en daarmee saam te leef, maar dit bly maar jou gat krap daar waar dit nie jeuk nie.

Deesdae begin ek darem ook meer positief dink oor die gedurige geklaery en miskien is dit omdat hulle so oor die kleinste goedjies kla dat daar baie selde iets groots hier verkeerd loop?!

Nou onlangs het 'n minister sy werk verloor omdat hy twee bottels wyn vir homself op sy ministeriële kredietkaart gekoop het!

Al wat hier sonder probleme ontwikkel word is woonbuurte. Vir die res is ALLES in Kiwiland daarop gemik om vooruitgang, sover moontlik, in die wiele te ry. Van die Kiwi's se gesindheid teenoor ontwikkeling tot die wette wat hulle maak is daarop gemik om ontwikkeling te kortwiek of te stuit.

Gewoonlik word dit alles oor die boeg gegooi van bewaring van die omgewing of hulle vals beeld van "clean & green". Dinge soos die "Resource Management Act" en die "environment court" word tot die uiterste ingespan om ontwikkeling te keer. Teen ENIGE projek of ontwikkeling SAL daar ALTYD 'n menigte wees wat besware GAAN aanteken - dis omtrent al waarvan jy doodseker kan wees. Lyk my "BESWARE" is omtrent al wat ten volle ontwikkel word.

Die gevolg hiervan is dat ontwikkeling baie stadig plaasvind en dat almal kan sien dat dit enorme probleme gaan veroorsaak in die toekoms. Auckland is ongetwyfeld die "powerhouse" van New Zealand en dis van uiterste belang vir NZ dat Auckland 'n skoon en vooruitstrewende stad sal bly, maar tog haat plattelandse Kiwi's Auckland met 'n passie wat 'n mens stom slaan. Dis asof dit 'n lewendige ding is wat hulle haat en kan ek net nie, hoe ek ookal probeer, dit klein kry hoe hulle so "narrow-minded" en kleingeestig kan wees nie.

Ek het nie 'n probleem daarmee as die Kiwi's NZ vir ewig as 'n klein groen plasie wil bewaar nie, maar dan moet hulle NIE kla as die land se ekonomie stagneer en selfs agteruit begin gaan nie. As jy van klein groen plasies hou, dan sal jy beslis van NZ hou. Ek hou van klein groen plasies en daarom bly ek hier!

Kiwi's het 'n opinie oor ABSOLUUT ALLES onder die son en is nie skaam om hulle opinies luidkeels te verkondig nie. Hulle gee ook nou nie juis om of hulle opinie op feite gegrond is of nie, solank hulle net gehoor kan word. Male sonder tal het ek al ervaar dat hulle opinies meer gegrond is op emosie, vrees en persoonlike voorkeure as op feite.

Hierdie beheptheid met hulle persoonlike opinies is goed beskryf deur die Amerikaanse komediant Wilson Dixon toe hy gesê het: "They don't let a low level of intelligence come in the way of forming a strong opinion"! Nou ja.

Verder help die burokrasie in NZ ook nou nie juis dinge aan om vinniger te gebeur nie en hieronder is my siening daarvan:

'n Kort ,dog volledige, beskrywing van Kiwi's se beheptheid met die burokrasie kan gevind word in die beskrywing van die "Vogons" in die "The Hicthhikers Guide To The Galaxy" deur Douglas Adams waar hy sê:


"They wouldn't even lift a finger to save their own grandmothers.... without orders signed in triplicate, sent in, sent back, queried, lost, found, subjected to public enquiry, lost again, and finally buried in soft peat for three months and recycled as firelighters!"

Kiwiboer terug na bo

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

LEWENSKOSTE (Cost of living)

Dit was nog altyd ons ervaring dat 'n mens met 'n bietjie beplanning en oordeelkundige aankope redelik maklik kan oorleef in NZ. As jy gewoond was aan 'n "WOOLIES" lewe in SA gaan jy nie met die gewone ou se begroting hier uitkom nie, maar as jy bereid is om 'n bietjie pryse te vergelyk, "no name brands" te koop en jou inkopies by die "commen" mense se supermark (Pak 'n Save) te doen gaan jou maag redelik lekker vol bly.

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

DIE WEER

Dit reën NIE elke dag in New Zealand NIE! Dit is 'n baie mooi groen land, danksy duisende tonne kunsmis en net soveel beesmis en die eerste paar maande hier het ek gesmag om net weer 'n bietjie bruin of geel te sien en sou ek wat wou gee om op 'n duin in die Kalahari te kon staan, maar 'n mens raak dit gewoond. NZ is 'n winter-reënvalstreek en dit reën in die winter soos in die Boland.

Dit kan vir dae aaneen reën, maar daar kan ook 'n maand verbygaan waarin dit net een of twee dae reën. Daar is beslis genoeg lekker warm sonskyn dae om die natuur en sport te geniet en die aanpassing was beslis nie vir my vreeslik nie. Ons het in die Boland gebly voor ons immigrasie hierheen en die ooreenkomste was merkbaar. As jy baie ernstig is omtrent die weer in NZ gaan na die NZ Weerburo (http://www.metservice.co.nz/default/index.php) se webwerf en werk 'n bietjie daar deur hulle syfers.

Dit is net die SON wat nie hier met hom laat speel nie, want Kiwiland is direk onder die gat in die osoonlaag geparkeer en 15 minute is omtrent die maksimum wat jy onbeskermd in die son kan deurbring, daarna moet jy ernstige sonbrandghries (nie olie nie GHRIES!) of klere aantrek of jy gaan WEET daarvan.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

DAGLIGBESPARING (Daylight saving time)

Op die laaste Sondag in September word alle horlosies in NZ een uur vorentoe gestel en op die eerste Sondag in April word die horlosies weer een uur terug gestel.

Van einde September tot begin April is NZ se tyd dus 11-ure voor Suid-Afrika s'n en nie die gewone 10-ure nie.

Die gevolg van hierdie daglibesparing is dat in hoog somer die son eers 10-uur (22:00) in die aand onder gaan en dat jy 'n lekker laaaaang dag het om jou dinge in te doen. Ongelukkig verander dinge in die winter na die ander kant toe en is dit al teen half ses (17:30) saans donker. Mens kan ook nie altyd wen nie, nê?

Ek hou nogal van dagligbesparing, maar ander mense hou weer niks daarvan nie.

As jy meer wil weet oor "Daylight Saving Time" in NZ KLIEK HIER asseblief.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

"NANNY STATE" & "TALL POPPIES"

Omdat new Zealand bekend is as 'n "Klaslose" staat (egalitarian state), waar almal (veronderstel is om) gelyk is probeer almal ook om almal "gelyk" te hou en kry jy 'n verskynsel wat bekend staan as die "Tall Poppy Syndrome" en hulle sê iemand wat daaraan ly is gewoonlik "neither Tall nor a Poppy", maar hoe dit ookal sy dit is baie lastig en jy kom dit orals teë.

Nou die "Tall Poppy Syndrome" kom maar net daarop neer dat hulle enigiemand wie uitstyg bo die ander of wie suksesvol is sal kritiseer of probeer afbreek (cut down to size) om hulle weer gelyk te kry met almal. Jy sal dit orals teëkom en hulle spog selfs daarmee!!

'n Ander ding is ook dat NZ bekend staan as 'n "Nanny State" en vir alles en oor alles is daar reëls en regulasies en die staat probeer op selfs die laagste vlak die lewe vir jou reël. Dit kan 'n pyn in die gat wees!


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

PAAIE & INFRASTRUKTUUR

Die meeste paaie in NZ is geteer, selfs die meeste plaaspaaie en ALLE paaie het name. Selfs die kleinste kronkelpadjie na jou plot of plaas toe het 'n naam en elke plaas het 'n straatadres en die pos word by jou posbus afgelewer met sulke rooi bakkies gemerk "Rural Post"! Infrastruktuur en dienste is goed en in 99% van gevalle kan jy 'n telefoon en kragverbinding kry op dieselfde dag wat jy in jou huis intrek - mits jy hulle natuurlik laat weet!

Hoewel geteer is die paaie nie altyd in 'n goeie toestand nie en op alle paaie is daar PERMANENT konstruksie of herstel aan die gang. Die spoedbeperking in NZ is 100Km/u, maar die gemiddelde snelheid wat jy kan handhaaf tussen stede en dorpe is so ongeveer 80Km/u en as jy 'n rit uitwerk is dit die spoed wat jy gebruik. Paaie is soms erg nou en kronkelrig as gevolg van die geografie. Enigiemand wat al die pad van Otorohanga na Kawhia gery het sal weet dat een of almal motorsiek gekry het! Dit is 'n ekstreme voorbeeld, maar dit kan so erg raak.

Kiwiboer terug na bo 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

MISDAAD IN NEW ZEALAND

In teenstelling met Suid-Afrika is misdaadstatistiek in NZ nie 'n geheim nie en vryelik beskikbaar vanaf die NZ Polisie se website. Dit word ook nie "gekook" om politici te pas nie!

Uit die misdaadstatistiek vir NZ in 2009 het ek die volgende gevolgtrekkings gemaak en vergelykings opgestel nl:

Vir 2009 was daar 92 moorde in NZ en die oplossyfer was 98.9%. Dis minder as een moord elke 4 dae en as jy die bevolking van NZ met 12 sou maal om dieselfde bevolking as SA te kry sou NZ met dieselfde bevolking as SA 1104 moorde per jaar gehad het. SA bereik daai syfer in twee weke!!! As NZ dieselfde bevolkingsgetal as SA gehad sou die moordsyfer in SA nog steeds byna 26 keer hoër as NZ s'n gewees het! Ongelooflik.

In NZ is ongeveer 85% van moorde tussen mense wat mekaar ken of een of ander verhouding gehad het. "Random" moorde gebeur slegs in 15% van gevalle, d.w.s. van die 92 moorde in 2009 is slegs 14 mense deur vreemdelinge vermoor. Ek dink die kanse dat jy in NZ vermoor sal word is so skraal dat jy nie eintlik eers daaraan hoef te dink nie.

KLIEK HIER om die nuutste misdaadstatistiek in NZ te kry.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

MEDIESE DIENSTE

Ek kan 'n hele webwerf daaraan afstaan om mediese dienste in NZ te beskryf, maar gaan net die noodsaaklikste sê. Basiese mediese dienste word deur die staat verskaf of word deur die staat gesubsidieer. Behandeling in staatshospitale is gratis en die meeste voorgeskrewe medisyne word deur die staat gesubsidieer en jy betaal net 'n voorskriffooi wat gewoonlik so in die omgewing van NZ$20 beloop en 'n minimale bedrag vir die medisyne.

Besoeke aan jou huisdokter kos so ongeveer NZ $50 per besoek en kinders onder 6 jaar is gratis. Operasies in staatshospitale geskied op 'n basis van dringendheid en waglyste is lank. Om jouself te dek vir elektiewe sjirurgie moet jy maar liewer vir jou privaat medieseversekering uitneem. Daar is privaat hospitale omtrent in elke groot dorp, maar jy moet self betaal vir behandeling/operasies daar. Vir bevallings In NZ het hulle 'n stelsel wat van vroedvroue (midwifes) gebruik maak en moet jy die bevalling deur 'n vroedvrou laat doen. As jy jou eie ginekeloog of dokter wil hê moet jy uit jou eie sak betaal daarvoor.

PRIVAAT MEDIESEVERSEKERING: Die grootste maatskappy wie medieseversekering in NZ verskaf is SOUTHERN CROSS HEALTH CARE. Besoek hulle webwerf by: http://www.southerncross.co.nz


SAners wie jou ook kan help met privaat mediese versekering en Inkomsteversekering is: Fritz Swart (www.fritzswart.co.nz) , Herman Roodt (
www.mfs.net.nz) en Johan Pretorius (johanpretorius@xtra.co.nz ) .

NB: Fritz Swart het ook die volgende goeie advies gestuur oor medieseversekering:

"Jy moet assseblief ook aanbeveel op jou website dat immigrante hul mediese rekords uit SA moet saambring. Verkieslik moet hulle minstens 5 jaar se geskiedenis bring aangesien die versekerings mpye al hoe strenger word met keuring van hierdie tipe polisse vir mense wie nog nie Permanente Verblyfreg het nie en van die mpye dring aan op SA mediese geskiedenis andersins medies en bloedtoetse op die klient se eie koste vir die wie net op werkspermitte is."

Mediese voordele vir persone op werkspermitte?
As jy 'n werkspermit vir 2 jaar of langer het kwalifiseer jy vir al die mediese voordele wat burgers en "residents" het. Met ander woorde jy/julle sal gratis (in Staatshospitale) behandeling ontvang en ook die medisynevoordele kry wat ons almal het.

WAARSKUWING: Die eggenote/s van persone met 2 jaar werkspermitte is NIE geregtig op gratis medies nie! Die permithouer en alle kinders onder 19 jaar is wel geregtig op gratis medies, MAAR NIE die eggenote/s nie. 'n Onlangse voorval met familie van GWEN HERBST het die feit pynlik onder almal se aandag gebring en hulle sit nou met 'n rekening van NZ $11 000!! Lees ook die koerantberig oor die tragiese geval van die Lategan-gesin.

Hier is 'n uittreksel van die brief wat Gwen van die NZ Dept. van Gesondheid ontvang het:

"Dear Gwen

Thank you for your email which has been passed on to me for response.

The Eligibility Direction states that each person has to prove eligibility in their own right. The exception to that is children aged 19 and under. In the case of dependent children, an eligible partner may confer their eligibility to that children.

In order to be eligible for publicly funded health services in New Zealand you must, at the very least, be the holder of a 2 year work permit. Our website, www.moh.govt.nz/eligibility details who is eligible under the Direction.

In your case, as it appears that only your husband will be granted a work permit, I would strongly suggest that you seek some for of travel insurance to cover you for the time you are in New Zealand. If you were to become ill, you would be liable for the full costs of the treatment.

I hope this information is of use.

Regards

KS"

Kiwiboer terug na bo

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

TANDE:

 

Kinders onder 13jr kan basiese tandheelkundige behandeling soos die stop van klein gaatjies en trek van tande by die "Dental Nurse" kry wat die skool besoek. Vir meer gevorderde werk word hulle na 'n tandarts verwys wat die behandeling gratis doen (Staat betaal). Tussen 13jr en 18jr kan kinders verniet tandheelkundige behandeling kry by 'n tandarts (nie alle tandarts wil egter die staatsfooi vir hierdie "gratis" diens aanvaar nie en bykans altyd moet die ouers ekstra opbetaal vir die "gratis" behandeling).

Volwassenes moet self betaal vir tandheelkundigebehandeling en dit word NIE deur die staat gesubsidieer NIE. Jy betaal deur jou nek vir tandheelkundige behandeling en die koste van tandwortelverwydering en die insit van 'n tandkroon beloop in die omgewing van NZ $750 tot $1500 (ongeveer R4100 tot R8250) en die gemiddelde koste vir die stop van 'n tand so tussen NZ $80 tot $170 (ongeveer R450 tot R935). Die trek van 'n tand is so ongeveer NZ $90 - $150 (ongeveer R500 tot R825).

As jy hier kom dan waardeer jy jou "goedkoop" tandarts in SA, want hier kan jou tandarts jou regtig finansieël ernstig knou. Ek en Ina laat nou maar net die nodige by die tandarts doen en het 'n beleid van "geen krone" en "net trek", want ons spandeer eerder die geld op ons kinders se tande as ons s'n. As jy baie tandheelkundige behandeling nodig het gaan die koste van tandheelkunde in NZ jou na valstande laat verlang soos nog nooit tevore nie. As jy gereelde besoeke aan SA bring wil ek voorstel dat jy groot herstelwerk aan jou tande liewer daar laat doen, want gereelde werk in NZ kan in 'n kort tyd opmaak vir 'n vliegkaartjie na Suid-Afrika.

Vir my is daar nog net twee uitweë na goeie bek tande en dit is die Lotto en valstande!! As jy in ag neem dat die gemiddelde loon in die omgewing van $15 per uur is dan moet 'n werker 'n hele dag se werk insit om net vir een tand se trek te betaal. Vir 'n tandkroon van $950 sal 'n verpleegster wat $28 per uur verdien een HELE week se salaris (na belasting) moet opgee om dit te betaal! Werk dit self uit. Ek kan dit werklik verstaan hoekom baie Kiwi's met bekke vol vrot tande loop, hulle kan doodeenvoudig net nie tandheelkundigebehandeling bekostig nie.

O'ja, net so terloops - daar is nie arm tandartse in NZ nie!!

NB: Net nogiets - daar word van jou verwag om dadelik jou dokters-of tandartsrekening te betaal voordat jy die spreekkamer verlaat. Nog voordat die lewe terug is in jou bek is die geld in die dokter se sak. Jy kan reëlings tref om 'n rekening te kry of om jou behandeling af te betaal, maar dit kos alles ekstra en jy moet vooraf met die dokter/tandarts reël.


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

BESERINGS

ENIGIEMAND (selfs toeriste) wie in NZ mediese behandeling moet ontvang as gevolg van ENIGE besering - motorongelukke, werksbeserings, ens. (selfs by jou huis terwyl jy met jou privaat werk besig is) se mediese koste word deur die ACCIDENT COMPENSATION CORPORATION betaal. Jy is net verantwoordelik vir die eerste betaling wat so tussen $30 tot $50 kan beloop. As jy vir 'n lang tyd van die werk afwesig is as gevolg van jou besering sal hulle selfs 80% van jou salaris betaal vir die tydperk wat jy nie kan werk nie. Alle opvolg behandeling wat jy moet ontvang is ook gratis.


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

PENSIOEN IN NEW ZEALAND

Om in aanmerking te kom vir pensioen (superannuation) in NZ moet jy minstens 65jr oud wees, 'n wettige permanente inwoner wees (Permanent Resident of Citizen) en sedert jou 20ste verjaardag vir minstens 10 jaar in NZ gebly het. Minstens 5 jaar van daardie 10 jaar moet sedert jou 50ste verjaarsdag wees.

Die pensioenbedrae word gereeld aangepas en jy kan die presiese bedrae op die webwerf van "Work and Income NZ" gaan opsoek by: http://www.workandincome.govt.nz/  - Gaan kyk by "INDIVIDUALS" en soek vir "SUPER ANNUATION" of "OVER 65".


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

POS EN TELEKOMMUNIKASIE

Die Posdiens is uitstekend en die poskantoor onderneem om posstukke op enige plek in NZ binne 3 dae af te lewer en hulle doen dit. Posgeld vir standaard briewe binnelands is NZ 50c (het in 2007, met 5c gestyg tot 45c - dit was vir DERTIEN JAAR lank 40c gewees!).

Verskeie ander dienste word ook by die poskantoor gelewer en jy kan onder andere jou elektrisiteitsrekening, gasrekening, telefoonrekening en motorlisensie by die poskantoor betaal. Die poskantoor lewer ook 'n aanstuurdiens en as jy verhuis sal die poskantoor vir 3 maande alle pos vir jou, wat aan jou ou adres gestuur word, na jou nuwe adres aanstuur. Die aanstuurdiens is gratis vir die eerste 3 maande en daarna teen 'n minimale fooi.

By die aanmelding van jou adresverandering en ontvangs van die vorm vir die aanstuur (redirect) van jou pos sal die poskantoor ook die voertuigregistrasieowerheid van jou adresverandering in kennis stel sowel as die verkiesingskantoor. Pos word 6 dae per week afgelewer deur die posbodes ("Posties") en selfs in die slegste weer sal jy hulle in hulle rooi en swart uniforms en "day glo" baadjies op hulle fietse sien ry en pos aflewer.

Telefoon-en Internetdienste word deur verskeie privaat maatskappye gelewer, waarvan Telecom die grootste telefoonmaatskappy is en Xtra die grootste Internetdiensverskaffer is.

Telefoonkoste vir 'n huislyn is ongeveer NZ $50 per maand en dit sluit nie oproepe in nie.
Ons telefoonrekening is gewoonlik hier in die omgewing van $180 - $200 per maand en sluit ons Broadband Internet-verbinding in. 'n Broadband plan van 3GB per maand kos ongeveer $40 en vir $50 kan jy 'n 10GB plan kry.

As jy by jou wyebandverbinding nog GRATIS Internettelefoon aanhaak dan het jy 'n baie goedkoop verbinding met mense in SA (en reg oor die wêreld). Die Internettelefoon wat loshande die beste is en op hierdie oomblik nog nie 'n gelyke het nie is SKYPE en dit is ongelooflik maklik om op te stel. Jy laai die program VERNIET van die Internet af en dan kan jy verniet van REKENAAR tot REKENAAR gesels. Dit is nie verniet as jy van REKENAAR na 'n TELEFOON bel nie.

Verskeie oproep-pakette is ook beskikbaar om internasionale oproepe darem 'n bietjie goedkoper te maak. Die gewildste van die oproep-pakette is sekerlik die "capped calls" waarmee jy teen NZ $20 SA toe kan bel en vir twee ure kan gesels!

Ons vind egter dat die beste manier om jou telefoonrekening in toom te hou (as jy gereeld SA toe bel) is om met telefoonkaarte te bel. Oor die algemeen is hulle beter waarde vir geld as enige spesiale aanbod van die telefoonmaatskappye. Daar is 'n hele spul van hulle en jy kan hulle sommer by jou kafee op die hoek koop. Enigste nadeel is dat die verbinding soms nie van die beste is nie.

Vir meer besonderhede oor Telecom en Internetdienste en koste besoek asb. www.telecom.co.nz.

Kiwiboer terug na bo

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

OMSKAKELING VAN SA BESTUURDERSLISENSIES EN PADWAARDIGHEIDSONDERSOEKE VIR VOERTUIE

 

Ons gebruik die metriekestelsel van meters en kilometers en ry aan die linkerkant van die pad hier in NZ en al die SAners wat ek ken het sonder enige probleme die oorskakeling gemaak. 'n Paar padtekens verskil van die waaraan ons gewoond is, maar hulle is min en 'n mens leer hulle in 'n japtrap ken.

 

Sedert 1 September 2008 is die nie meer nodig vir SAners om enige toetse te skryf om hulle SA bestuurderslisensies om te skakel na NZ Bestuurderslisensies nie. Dit geld egter net vir "Class 1" (ligte M/voertuig) en "Class 6" (motorfiets) lisensies. Jy moet 'n "full" lisensie hê, met ander woorde jy kan nie jou leerlinglisensie omskakel nie. Enige SAner met geldige permanente SA bestuurderslisensie kan sy/haar lisensie laat omskakel by enige LTSA "licensing agent".

 

Volle bewoording van die wetsverandering - (From 1 September 2008, drivers applying to convert their overseas licence to a New Zealand Class 1 (light four-wheeled vehicle) or Class 6 (motorcycle) licence will not have to pass a theory test if their overseas licence was issued by one of the specified countries whose licence holders are currently exempt from passing a practical driving test in New Zealand. Applicants who are applying to convert heavy vehicle licence classes to New Zealand’s equivalent classes (ie, Classes 2-5) will still have to pass an appropriate theory test in New Zealand.) Bron.

 

NB: Skakel so gou as moontlik na jou aankoms jou bestuurderslisensie om na 'n NZ bestuurderslisensie. Ek sal sê probeer om dit binne die eerste twee maande te doen, want 'n NZ Bestuurderslisensie dien omtrent dieselfde doel as 'n ID-dokument in SA en is jou vernaamste bron van identifikasie hier.

 

As jy jou SA bestuurderslisensie verloor of dit gesteel word sal jy HEEL onder moet begin met 'n NZ leerlinglisensie omdat jy nie bewys sal kan lewer dat jy 'n SA bestuurderslisensie gehad het nie, want dit is feitlik onmoontlik om 'n nuwe SA lisensie te kry terwyl jy in NZ sit - probeer dit! As jy nie jou SA bestuurderslisensie (die kaartjie, NIE die ene wat nog in jou ou ID-boekie is nie) kan toon nie sal NIKS anders werk nie. Hulle aanvaar nie verklarings of afdrukke van jou SA lisensie nie - NET die ware Jakob sal doen. Dis 'n helse lang proses om weer by 'n volle bestuurderslisensie uit te kom (sien hieronder), so spaar jouself baie hartseer, ongerief, boetes, tyd, vloek en skel en kry jou NZ Bestuurderslisensie sodra jy hier aankom. In NZ dien bestuurderslisensies ook as 'n soort van ID-bewys en jy sal orals daarvoor gevra word waar jy aansoek doen vir dienste en bankrekeninge. Glo my as jy jou SA bestuurderslisensie verloor voordat jy jou NZ best.lisensie het sit jy absoluut in K@Kstraat!

 

BESTUURDERSLISENSIESTELSEL IN NZ

 

LEERLINGLISENSIE. Op 16-jarige ouderdom kan jy die 34 vrae "monkey puzzle" toets skryf oor die padverkeersrëels (Road code) en jou leerlinglisensie verkry. Wyl jy 'n leerlinglisensie het moet jy altyd saam met iemand ry wie vir meer as 2 jaar 'n volle bestuurderslisensie ("Full" license) het. Jy moet jou leerlinglisensie vir minstens 6 maande hê voordat jy kan "uitpasseer" om te kwalifiseer vir 'n "Restricted license". Met 'n leerlinglisensie kan jy nie passasiers vervoer nie, behalwe die gelisensieerde persoon wie altyd saam met jou moet ry.

 

DIE "RESTRICTED LICENSE"  magtig jou om alleen te bestuur met sekere beperkings. Jy mag nie passasiers vervoer nie TENSY jy 'n persoon langs jou het wie vir meer as twee jaar 'n volle bestuurderslisensie het. Jy mag net alleen ry tussen die ure 5.00vm (05:00) tot 10.00nm (22:00). Enige tyd tussen 10-uur saans en 5-uur soggens wat jy wil ry moet jy vergesel wees van 'n persoon wie vir meer as 2-jaar 'n volle bestuurderslisensie het. Die "restricted license" moet jy vir minstens 18 maande hê voordat jy vir 'n "full license" kan "uitpasseer". Jy kan die tydperk van 18 maande op 'n "restricted license" met 6 maande verkort as jy 'n "defensive driving couse" by 'n goedgekeurde instrukteur/bestuurskool bywoon. Die kursus duur gewoonlik 4 weke en kos ongeveer NZ $150.

 

Die korste moontlike tyd waarin jy dus 'n volle bestuurderslisensie kan verwerf is 18 maande!

 

 

PADWAARDIGHEIDSONDERSOEKE VIR VOERTUIE - elke 6 maande

 

Alle voertuie ouer as 6 jaar moet elke 6 maande 'n padwaardigheidsertifikaat (WOF - Warrant Of Fitness) kry en dit verseker dat alle voertuie op die pad in 'n goeie werkende orde is (hopelik). Sonder 'n geldige WOF kan jy ook nie jou motorlisensie hernu nie. Voertuie nuwer as 6 jaar hoef net een keer per jaar 'n WOF te kry.

 

Vir volledige besonderhede aangaande NZ bestuurderslisensies en voertuigregistrasies besoek asseblief die webwerf van die NZ Land Transport Safety Authority by www.ltsa.govt.nz/index.html

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

NZ MUURPROPPE
 
SA elektriese muurproppe pas nie hier in NZ nie. Om presies te weet watter proppe om te koop het ek 'n blad gemaak met 'n paar foto's en afmetings, sodat jy presies kan weet watter prop of verbindingstuk (adapter) om te koop. KLIEK HIER om na die foto's van die muurproppe te gaan. Die blad maak in 'n nuwe venster oop.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

CADAC GASBOTTELS UIT SA
 
Ons sit almal nog met ons ou CADAC gasbottels uit SA, want jy kan hom nie hier laat volmaak nie. Eerstens verskil die koppeling en tweedens mag gashervulplekke (gewoonlik sommer die petrolstasie) slegs bottels hervul wat in NZ gedruktoets is. Elke gasbottel kry ook 'n plakker op waar elke hervulling aangeteken word en die bottels se reeksnommer word geregistreer. Gasbottels mag net vir 'n sekere aantal hervullings gebruik word voordat dit as onveilig beskou word. Los maar die CADAC gasbottel in SA en kom koop hier 'n nuwe een. Probleem opgelos!! 'n Splinternuwe 9Kg gasbottel kos in NZ ongeveer $50.
 
LW: BRING jou gasbraai en jou Skottelskaar en al daai lekker gastoerusting wat 'n mens in SA kry en kom kry net hier vir jou 'n nuwe bottel en 'n nuwe koppeling. Moenie jou gastoerusting in SA los nie.

Kiwiboer terug na bo 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

KINDERS


Kinders gaan 13 jaar lank skool en begin in die jaar waarin hulle 5 jaar oud word.
Kinders onder 14 jaar oud mag NIE alleen by die huis gelaat word nie.
Dogters kan op enige ouderdom 'n aborsie kry SONDER die ouers se toestemming!
Kinders kan op 15 jaar 'n leerlingbestuurderslisensie kry.
Kinders is verplig om tot 16 jaar skool te gaan.
Kinders kan vanaf 14 jaar wettig drank gebruik as hulle ouers die drank aan hulle verskaf.
Kinders kan eers op 18 jaar self drank en sigarette koop.
Kinders raak op 18 jaar stemgeregtig.
Kinders onder 14 jaar mag nie vuurwerke koop nie.
Kinders word op 20 volwassenes.
Kinders kan op enige ouderdom 'n Lotto-kaartjie koop, maar moet oor 16 jaar wees om 'n krapkaartjie te koop!
Kinders mag NIE GESLAAN WORD NIE! 'n Goeie pakslae (soos dié waarop ons grootgeword het) kan jou in groot moeilikheid laat beland (hoewel ek nog steeds oortuig is daar is niks so goed vir 'n kind as 'n plat hand op die gat nie!).
Kinders kan net op skool bly tot 19 jr.


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

VERSEKERING

In vergelyking met SA is versekering werklik goedkoop. 'n Voertuig met 'n waarde van minder as NZ $25 000 en huisinhoud van NZ $40 000 kan as 'n pakket verseker word vir NZ $60 per maand. Lewensversekering van NZ $300 000 sal jou ongeveer NZ $50 per maand kos as jy tussen 40 en 43 jr oud is.

'n Man wat jou vinnig op hoogte kan bring met al jou versekeringsopsies in NZ is Fritz Swart (ja, hy praat Afrikaans). Besoek gerus sy webwerf ( www.fritzswart.co.nz ) vir meer inligting.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

TREK JOU SKOENE UIT!
 
SAners wie die eerste keer in NZ kom vind dit snaaks, irriterend en soms vernederend dat hulle, hulle skoene moet uittrek voordat hulle 'n huis binnegaan. By sommige SAners se huise dring hulle selfs daarop aan dat jy jou skoene aanhou uit vrees dat hulle aanstoot sal gee.
 
Die gebruik om jou skoene uit trek voordat jy 'n huis binnegaan is so prakties en "common sense" dat ons aldag vergeet om dit aan ander SAners te verduidelik.
 
Eerstens kan dit soms vir lang tye aaneen reën en as almal met hulle nat modder skoene op jou matte loop raak dit later sopnat en word nie gou weer droog nie en kan die matte begin vrot. Ons is almal bekend met die benoude reuk van 'n ou huis met nat matte!!. Tweedens is daar nie bediendes wat jou matte elke dag kan skoonmaak nie, jy moet dit self doen!
 
By baie huise sal jy 'n notabordjie by die voordeur sien wat jou versoek om jou skoene uit te trek, so trek maar jou skoene uit voordat jy 'n huis in NZ binnegaan - die groot klomp skoene wat voor die deur staan beteken nie ons is almal Mohammdane nie, ons trek net almal ons skoene uit.

 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

BEHEER BY LUGHAWENS

As gevolg van die feit dat die ekonomie van NZ op landbou aangewese is, is biologiese beheermaatreëls UITERS streng.
 
Moet onder GEEN omstandighede enige plantaardige of dierlike produkte die land probeer binnebring nie (veral nie biltong nie!). Selfs modder onder jou skoene of 'n half-gëete toebroodjie kan jou in ernstige moeilikheid bring.
 
Verklaar enige produk of plant of ENIGIETS waaroor jy twyfel, as jy dit verklaar kan hulle dit net afneem en vernietig en spring jy die boete of selfs arrestasie vry. As hulle jou vang (en hulle gáán, want die honde snuffel aan almal en al die bagasie wat inkom) sal jy gearresteer word en as jy baie gelukkig is sal jy 'n NZ $200 (ongeveer R850) boete op die plek kry.
 
Die doane amptenare van NZ word beskryf as "The customs officials from hell" en sal enige verskoning soek om jou te beboet (ons praat van persoonlike ervaring! Lees ook die artikel in"Koerantberigte"). Dit is NIE die moeite werd NIE en ons ondersteun die Kiwi's in hierdie verband, want dit kan hulle ekonomie vernietig.
 
Ons maak baie lekker biltong in Kiwiland en NZ $200 kan baie biltong koop, sonder tronkstraf!! Niemand word gespaar nie, nie eens posterre nie. Die popgroep Franz Ferdinand was met $200 beboet vir 'n enkele lemoen in hulle bagasie.
 

Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

KIWI WOORDE, UITDRUKKINGS en UITSPRAKE WAARAAN ONS NIE GEWOOND WAS NIE
 
Die Kiwi's gebruik soms 'n soort Ingels waaraan 'n mens (ek) gewoond moes raak of leer ken en die onderstaande is 'n paar van hulle:
 
ANKLE BITER = 'n Kleuter
BACH (uitgespreek "Batch") = Strandhuis (Kom van "Bachelor pad" af).
BARBIE = braai
BARRACOUTA = Soort van 'n baie lekker melkbrood - sag en hoog gerys.
BEEHIVE = Die Parlementsgebou in Wellington
BOMBPROOF = Veral op platteland gebruik om 'n perd te beskryf wat nie gou skrik nie en baie mak is.
BRASSED OFF = Die moer in
BRO = Broer of maat.
BROLLIE = Sambreel
BUSH = Word voor woorde gebruik om iets / iemand te beskryf wat grof/onprofessioneel of onopgelei is soos "Bush Lawayer" of "Bush Mechanic".
CHEERS = Dankie
CHILLY BIN = Cooler box
CHIPPIE = Skrynwerker
CHOICE = Die beste of baie goed
CRASH = Oorslaap - gewoonlik ongenooid! (Kan ook 'n motorongeluk wees!).
CRIB = Strandhuis (meer gebruik in Suid-Eiland)
CROOK = Siek of voel nie lekker nie
CUPPA = Koppie koffie of tee
DAIRY = Klein kafeetjie op die hoek
DECK = 'n Stoep
DUNNY = Toilet
FEED (Have a feed) = Om te gaan eet.
FIZZY DRINK = Koeldrank
FLASH = Lyk baie goed
G'DAY = Hello
GêRRIETS = Uitspraak van "Garage"
GOOD AS GOLD = Alles is reg / Baie reg
GOOD ON YA MATE = Wel gedaan!
HE's A BIT OF A BLOUSE = Hy is ietwat van 'n sussie.
HUNKY DORY = Alles is reg
JAFA = Woord wat in die platteland gebruik word om iemand wat in Auckland bly te beskryf (Staan vir Just Another F......n/Fabulous? Aucklander!).
JANDALS / THONGS = Plakkies
JANDALS = Plakkies
JAPIE = 'n SAner (Van "Plaasjapie" af)
KNACKERED = Moeg
LOLLY = Lekkergoed (Sweets)
LOO = Toilet
MATE = Vriend, maat
MOBILE = Selfoon
MORNING TEA = Brunch
NO WORRIES = Geen probleem
ôi! = Roep as hulle nie jou naam ken nie of as jy in die AAAAA is.
PAKEHA = 'n Maori-woord vir 'n Wit persoon of iemand van Europese afkoms
ROUNDABOUT = Verkeersirkel
RUBBERNECK = Nuuskierige mense wie omkyk vir ongelukke terwyl hulle verby ry en baie keer self 'n ongeluk veroorsaak deur in die kar voor hom was te ry.
SAMMIE = Toebroodjie
SEE YA = Totsiens
SHE'LL BE RIGHT of SWEET AS = Alles sal reg wees
SHIFT YOUR ASS = Roer you gat!
SKIVVY = 'n Polo-nek T-hemp.
SLAPPER = 'n Goedkoop meisie met twyfelagtige sedes.
SMOKO = 'n Rookbreuk.
STUBBY = Klein bierbotteltjie
STUFFED = Moeg of ooreet
SUNNY's = Donkerbrille
SUSS = Om iets uit te werk
TA = Dankie
TAKE A HIKE = Gaan weg / loop
TEA = Aandete
TEXT = SMS
TIKI TOUR = 'n Goedkoop toer of 'n manier om tydmors te beskryf.
TO SHOUT = Om vir almal drank of kos te koop.
TOGGS = Swemklere
TOGS = Swemklere
UTE = 'n Bakkie
WELLIES = Gumboots
WESTIE = Iemand wat uit Wes-Auckland kom. Gewoonlik so 'n "Boy Van Die Suburbs" soort van ou.
WOP-WOPS = In die bosse of in die gramadoelas
YONKS = Forever
YOUS FELLAS = Julle

 
Sal die lys aanvul soos die woorde my byval, my kop is soos 'n sif - bo in onder uit en net hier en daar sit 'n druppel!


Kiwiboer immigrasie na New Zealand

 

TV-KANALE
 
New Zealand het 6 publieke TV-kanale, m.a.w kanale wat jy met jou gewone TV kan kyk sonder om te betaal. Daar is niks besonders aan die TV-kanale nie en die kwaliteit van programme is nou nie iets waaroor enigeen opgewonde sal raak nie. Programme word ook tot vervelens toe herhaal en ek wonder of daar nog 'n land in die wêreld is waar TV-programme so oor-en oor gewys word?
 
Getrou aan die Kiwi's se natuur sal ook omtrent ENIGIETS (ek is ernstig) die nuus haal en van die onbenulligste dingetjies kan 'n nuusberig van etlike minute raak (en besprekingsprogramme van etlike ure). 'n Mens moet dit self sien om dit te waardeer, dis ongelooflik.
 
As jy enigiets ordentlik wil sien moet jy maar vir jou 'n skottel met betaal-TV (DSTV) kry en dit word in NZ verskaf deur SKY TV teen baie billike tariewe wat begin by ongeveer $55.00 per maand.
 
Jy kan ook die gewone gratis kanale (hulle beweer daar is 9!) in digitale beeld kry met 'n FREEVIEWdekodeerder wat ongeveer $200 kos. Persoonlik dink ek Freeview is 'n mors van tyd. As jy beter TV wil hê kry maar vir jou SKY. As jy meer oor FREEVIEW wil weet besoek hulle webwerf HIER.
 
Lees 'n meer volledige en eerlike siening van NZ se TV-kanale op die webwerf Stuff U can Use.
 

Kiwiboer terug na bo