|
Probleme op Auckland Lughawe
Hoe desperater
dit in SA gaan hoe desperater raak die SAners om uit die land te kom en
ek het BAIE simpatie met my landgenote wat uit SA "vlug" om 'n heenkome
hier te kom soek, MAAR in hulle desperate pogings om na NZ te kom, maak
hulle groot foute wat veroorsaak dat hule by Auckland Lughawe voorgekeer
en teruggestuur word.
Ek wil net so ligweg aan hierdie sakie raak, want ek kry tonne e-mails
daaroor.
SAners kan NZ vir 3 maande besoek sonder 'n besoekersvisa/permit. Dis
egter daar waar die probleme begin, want moenie vergeet nie dis 'n
BESOEKERSVISA nie 'n WERKSOEKVISA nie en volgens die besoekersvisa moet
jy 'n bona fide besoeker wees wat 'n tydjie hier wil kuier, hopelik
tonne geld uitgee en dan weer terug gaan.
Nou wat is dit wat veroorsaak dat die Immigrasiebeamptes jou voorkeer op
Auckland lughawe, besluit jy is nie 'n bona fide besoeker nie en jou
terug stuur SA toe met die volgende vliegtuig uit NZ?? Wat sê jy nou as
jy op die lughawe gevra word "WORK" or "PLEASURE"?
1. Eerstens ALMAL op Auckland lughawe WEET SAners wil
graag in NZ kom bly en dat hulle daagliks in dosyne hier aanland. So as
jy 'n SAner is word jy dadelik 'n teiken vir doane en Immigrasie as jy
hier afklim by die lughawe. Dosyne word sonder probleme deurgelaat, maar
wees verseker op elke vlug SAL 'n paar SAners uitgesonder word vir
deeglike ondersoek.
2. SAners en veral Afrikaners loop en praat in Afrikaans oor
hulle planne en dink nie hulle word verstaan of gehoor nie. Daar is BAIE
SAners wat op die lughawe en by Immigrasie werk wat elke woord verstaan
wat jy in Afrikaans praat en as jy so jou mond verby praat in Afrikaans
word jy verstaan. Daar is deesdae nie meer 'n plek waar jy kom waar daar
nie minstens een persoon is wat Afrikaans verstaan nie. VERAL in
plekke soos Auckland en Hamilton. So hou jou bek (om dit nou reguit te
stel) en moet dit nou nie wyd en syd verkondig dat jy hoop die agent kom
haal jou op die lughawe of jy hoop om gou 'n werk te kry nie, ens. BIG
MOUTH, BIG TARGET!
3. As jy 'n bona fide besoeker is MOET jy jouself kan onderhou
vir die tydperk wat jy hier is en die bedrae vir onderhoud word so
rofweg gestel op NZ $1000 per persoon per maand. So as julle 4 persone
is in die geselskap en julle sê julle kom vir 'n maand hier bly sal jy
aan NZ Immigrasie moet kan bewys dat jy minstens NZ $4000 PER MAAND van
verblyf (ongeveer R20 000) by jou het of toegang het tot daardie geld
deur hetsy 'n Kredietkaart of reisigerstjeks of watookal. Selfs al sê jy
jy gaan by familie of vriende bly sal daar nog van jou verwag word om 'n
aansienlike bedrag beskikbaar te hê om jouself te onderhou. So as jy
hier aankom om vir 3 maande te bly moet jy verwag hulle gaan so ongeveer
van jou verwag om NZ $3000 per persoon beskibaar te hê. Dis een van die
mees basiese goed waarmee hulle SAners uitvang - die eenvoudige vraag:
"Hoe gaan julle julle self onderhou vir die tyd wat jy hier is??" Om net
te sê julle gaan by familie bly is NIE goed genoeg nie!
4. SAners kom hier aan met AL hulle besittings in koffers gepak
en verwag dan NZ immigrasie moet hulle aansien vir bona fide besoekers.
Watter besoeker op vakansie pak al sy familie foto-albums, Afrikaanse
CD's, die troeteldiere, ouma en adresse van sy familie en vriende in SA
in??
5. CV's, werkrekords, getuigskrifte, graadsertifikate,
kwalifikasies en korrespondensie met werkgewers, personeelkonsultante en
immigrasieagente of enigiets wat jou met werk kan verbind in jou bagasie
is 'n "dead give away" dat jy BESLIS NIE 'n bona fide besoeker is nie en
jy sal op die lughawe omdraai as Immigrasie dit in jou bagasie vind as
jy net op 'n besoekerspermit hier is.
Tref reëlings om
jou dokumentasie vooruit te stuur na iemand wat jy ken of vertrou of
stoor jou CV, ens. "online" waar jy dit maklik via die Internet kan
oproep en druk.
WENK:
As jy jou CV en ander vertroulike dokumente op 'n hardeskyf of "flash
drive" saam met jou wil bring gebruik asseblief 'n goeie "encryption"
program sodat niemand behalwe jy dit kan sien nie.
'n Uitstekende "encryption" program met
baie handige gebruike is
TRUECRYPT en
jy kan dit GRATIS aflaai op hulle webwerf. Selfs al word jy verplig om
die "files" op die "encrypted drive" sigbaar te maak kan jy jou regte
"files" nog steeds veilig wegsteek deur hierdie program.
(Dankie Niel!)
6. Jy kan nie verwag om NZ Immigrasie te oortuig dat jy 'n bona
fide besoeker is as jy nie eens 'n toerplan of reisplan het nie. Jy weet
nie eens waarheen jy gaan of wat jy gaan doen op jou "vakansie" nie. Jy
het nie besprekings by enige hotel, gastehuis of B&B nie of die familie
en vriende by wie jy gaan "kuier" ken jou skaars of weet eintlik bitter
min van jou of jy weet nie eens waar jou "familie" of "vriende" bly of
wat hulle doen nie. Wees verseker hulle gaan al die "Familie" en
"vriende" in NZ bel waarvan jy die besonderhede aan hulle verskaf en
hulle GAAN hulle deeglik uitvra oor jou en wat jy hier kom doen. Jou
"familie" en "vriende" gaan gevra word om 'n beskrywing van jou te gee,
jou geboortedatum, waar jy bly in SA, waar jy werk in SA, hoe lank hulle
jou al ken, hoe jy verwant is aan hulle, ens, ens, ens.
7. BAIE MIN besoekers en toeriste kan werklik vir 3 maande
hier kom kuier of toer, want eerstens moet hulle baie geld hê om dit te
doen en tweedens watter mens met 'n werk kan vir 3 maande verlof kry??
As jy sê jy kom vir 3 maande GAAN hulle jou vra waar jy in SA werk en
hulle GAAN jou werkgewer in SA bel en hom/haar vra of jy nog daar werk
en hoe dit gebeur dat jy vir 3 maande van die werk kan wegbly en of
hulle weet jy hou in NZ vakansie. Die gemiddelde toeris of besoeker bly
nie langer as 3 tot 4 weke nie. Selde langer. Anyway na 3 weke gaan jou
familie of vriende so gatvol vir jou wees, hulle sal wens jy wil
teruggaan!
Dis maar net 'n paar slaggate waarin SAners al getrap het en veroorsaak
het dat hulle op die lughawe moes omdraai en met die volgende vlug moes
terug vlieg.
Soos meer voorvalle onder my aandag kom sal ek dit op die webblad sit.
|