|
SUID-AFRIKANERS IN NZ

|
|
OP HIERDIE BLAD:
SUID-AFRIKANERS IN NZ
VRYWILLIGE DIENS
HUWELIKKE & IMMIGRASIE
TAAL EN KULTUUR
INTERESSANTE REALITEITE VAN IMMIGRASIE
MAAK 'N GOED INGELIGTE BESLUIT
BOEREWORSRESEP
|
|

|
|
ALGEMEEN
Ek vind dit baie interessant dat besoekers aan my webwerf net soveel
belangstel in die Suid-Afrikaners in NZ as in NZ self. 'n Vraag wat
gereeld opduik is: "Hoe is die Suid-Afrikaners daar in NZ en wat maak
hulle"?.
Om hierdie eenvoudige ou vragie te beantwoord kan jou maklik in 'n
mynveld laat instap en oor die laaste paar jaar het ek al hierdie blad
se inhoud verskeie kere verander omdat ek daarvan beskuldig word dat ek
onregverdig, krities, sinies, bevooroordeeld, en nog ‘n hele spul ander
goeters ook teenoor SAners in NZ is.
Ek word ook daarvan beskuldig dat ek growwe ongefundeerde veralgemenings
maak oor my seining van SAners en ek pleit skuldig! ‘n Mens se gevoelens
oor ander mense hang meeste van die tyd maar af van hoe hulle jou laat
VOEL en hoe hulle jou BEHANDEL en is ‘n uiters subjektiewe ding wat
moeilik deur ‘n stel feite verklaar kan word, ek WEET egter wanneer
iemand my goed of sleg laat voel en dis vir my genoeg!
Al hierdie beskuldigings mag wel so wees, maar ek gee maar net MY sienig
weer en die ervarings wat EK met ander SAners (veral Afrikaners) in NZ
gehad het. Ander SAners in NZ se ervaring van ons landgenote mag anders
wees (en SAL ook anders wees).
|
|
|
|
Hieronder probeer ek MY EIE (niemand anders s’n nie)
ervarings oor SAners stapsgewys weergee:
1. Om te begin wil ek eers sê dat SAners ‘n GEWELDIGE bydrae maak op
alle vlakke van die samelewing in NZ en oor die algemeen as baie goeie,
hardwerkende en eerlike werknemers gesien word. Die verskil wat SAners
in NZ maak kan jy orals al duidelik begin sien, want hulle is ORALS
verteenwoordig. Oor die algemeen presteer SAners uitstekend op
professionele en akademiese gebied en is hulle ambisieus, dinamies,
vooruitstrewend en kompeterend (iets wat die Kiwi’s nie altyd verstaan
nie).
2. SAners is geneig om in die groter sentra te verstig (om verskeie
goeie redes, waarvan ekonomiese redes waarskynlik die grootste is).
Hulle vestig graag op plekke soos Auckland (vernaamste bestemming),
Hamilton en omstreke, Tauranga, Rotorua, New Plymouth, Palmerston North,
Wellington, Napier/Hastings en omstreke, Wellington, Christchurch
(gewildste Suid-Eiland bestemming) en Dunedin. Jy sal SAners vandag
feitlik op elke dorpie en gebied in NZ kry, maar die bostaande is maar
net die vernaamste plekke waar hulle graag bly.
Groot getalle SAners werk ook op honderde (indien nie duisende)
melkplase in die Waikato, Taranaki en Canterbury streke en hulle vaar
uitstekend en verower elke jaar dosyne trofees vir produksie en maak
hulle merk.
Toenemend begin SAners ook vestig in die akkerbou en wynbou gebiede van
NZ en kan jy reeds groot getalle SAners vind in die “Bay of Plenty”,
“Hawkes Bay” en Neslon/Marlborough streke. Die afgelope jaar of twee het
die Nelson/Blenheim omgewing baie gewild begin raak onder SAners.
3. Hoewel NZ grootliks 'n klaslose gemeenskap is handhaaf SAners steeds
hulle "klasse" en sal hoofsaaklik net met SAners assosieer wie hulle
beskou as op die dieselfde sosiale en inkomste "vlak" as hulle. Daar is
enkele uitsonderings, maar hulle is skaars.
Wees ook maar voorbereid daarop dat daar orals waar daar baie SAners
bymekaar is die gewone ou "KLIEKS" vorm wat om mekaar saamdrom soos
brommers om 'n dr...l en waarin jy nie maklik toegelaat sal word nie!
Hierdie stelling het al so baie lesers hulle speelgoed uit die kot laat
gooi, maar hoe meer hulle daaroor kla hoe meer kry ek ‘n gevoel dis ‘n
geval van “Methinks the lady doth protest too much"!
4. SAners het nog altyd daarvan gehou om mekaar te beïndruk met hulle
besittings en hulle belangrikheid/geleerdheid en dit is asof dit die
afgelope paar jaar net erger geword het. Na die “housing boom” in SA het
SAners hulle huise/besighede/plase teen ongelooflike pryse verkoop en
met GROOT bedrae geld hier in NZ aangekom en materialisme onder SAners
is baie erg en dit is amper asof dit die maatstaf geword het waaraan
hulle alles en almal meet.
SAners se beheptheid met karre en huise en die waarde wat hulle daaraan
heg grens soms aan die absurde. Dis asof ‘n kar (veral 4x4’s en duur
sportmotors) vir hulle al hulle verlore aansien moet herwin en nuwe
respek moet verdien met die eerste oogopslag. Vir baie SAners is hulle
met niks tevrede wat nie minstens ‘n spaarwiel op die agterdeur het nie.
Sportmotors en luukse motors staan nie vêr agter die 4x4’s nie en as jy
nie minstens ‘n paar “quad bikes” en ‘n Jetski/boot (of twee) in die
garage het nie het jy dit nog nie gemaak nie!!
5. Omdat ek seker noual reeds te veel gesê het wil ek volstaan met die
volgende en ek dink dit sê BAIE: Dit maak nie saak waar in die wêreld jy
Suid-Afrikaners bymekaar gooi nie, maar as jy vier Suid-Afrikaners op 'n
plek het gaan hulle binne 'n maand vyf verskillende kerke en ses
verskillende politieke partye gestig het!!
|
|

|
|
VERSKILLENDE GROEPE SUID-AFRIKANERS
Om SAners se siening oor NZ te verstaan moet jy probeer verstaan dat
daar "verskillende" groepies SAners is wat na NZ deur 'n ander bril kyk
en elkeen het 'n ander siening van NZ.
So rofweg kan jy SAners se
siening oor NZ in drie breë hoofgroepe indeel nl:
1. Die "Warm-and-fuzzies".
2. Die gewone ou.
3. Die "reluctant immigrant".
DIE "WARM-AND-FUZZIES"
Dis die ouens vir wie NZ die "ulitimate Utopia" is en wie enigiets
anti-NZ as verraad
beskou. Dis gewoonlik die ouens wie 'n lekker
gemaklike lewe in NZ het en wie met lekker
baie geld
oorgekom het en 'n lekker joppie, besigheid of praktyk het en wie sy
huis en 4x4 kontant kon koop toe hy hier aangekom het. Akademici en
sekere mense in die medieseprofessies (ek wil nie name noem nie, maar
verpleegsters val NIE onder die groep nie!) is OOR verteenwoordig in
hierdie groepie. Hulle praat meeste van die tyd Engels met 'n swaar
Afrikaanse aksent, maar weier om Afrikaans te praat en hulle skree vir
die All Blacks. Ek het 9 jaar se e-mails van hierdie website af om my
veralgemening te staaf, so sorry ouens!
DIE "GEWONE" OU
Die "gewone" ou is 'n immigrant
wat goed aangepas het en aangaan met sy lewe. Hy is dankbaar om veilig
in NZ te kan wees, bring sy kant en gebruik die geleenthede wat NZ hom
en sy gesin bied. Hy raak ook baie keer gatvol vir die
Kiwi's se geite en kla daaroor by die braaivleisvuur en vreet nie alles
wat die Kiwi's en Kiwiland aan hom opdis vir soetkoek op nie ,maar hy
kom daaroor en gaan aan met sy lewe. Na 5 jaar kry hy sy burgerskap en
vertrek Ozzie toe!!
DIE "RELUCTANT IMMIGRANT"
Die "reluctant immigrant" is 'n ou wat nie EINTLIK uit SA wou immigreer
nie, maar deur omstandighede gedwing was om te immigreer en nou die moer
in is vir alles en almal. Hy is kwaad vir SA en het niks goed te sê oor
SA nie, maar hy het ook NIKS goed te sê oor NZ nie. SA is
ka.. oor hy daaruit moes vlug en NZ is
ka.. oor hy nie 'n werk kan kry nie of omdat hy
vir peanuts moet werk of omdat NZ immigrasie draai met sy werkvisa of
PR! Hierdie ouens gaan gewoonlik na 'n ruk terug na SA, want NZ is dan
uiteindelik k...kker as SA, besluit hy en dis ook gewoonlik die ou wat
vir die Huisgenoot, Volksblad, Scope en die "Kom terug Huistoe veldtog"
skryf en vertel hoe AAAAA NZ nou eintlik is. Ons ken almal een van
hulle.
|
|

|
|
HUWELIKKE & IMMIGRASIE
Ek wil sommer met die deur in die huis val deur te sê , as jy getroud
is, werk aan jou huwelik VOORDAT jy aan jou immigrasie begin werk.
Huweliksmaats is tot die uiterste op mekaar aangewese vir ondersteuning
en hulp die eerste paar maande na immigrasie en swaarkry is noodwendig
deel van die pakket. Immigrasie kan 'n GROOT toets vir 'n huwelik wees
en ongelukkig deurstaan vele huwelikke nie die toets nie en verbrokkel
die huwelik hier in die vreemde met baie hartseer gevolge.
'n Huwelik wat hier in die vreemde verbrokkel se gevolge word 'n duisend
keer meer gevoel as wat die geval in SA tussen jou eie mense sou wees.
Daardeur wil ek nie sê dat die verbrokkeling van 'n huwelik in SA nie
ook traumaties is nie, nooit nie, die gevolge word hier net met soveel
meer faktore vermenigvuldig. Jy sit hier in die vreemde met geen, of 'n
baie klein, ondersteuningstelsel om jou by te staan. Die finansiële
implikasies kan so geweldig wees dat een of beide van die partye na SA
moet terugkeer om te oorleef. Jy kan self dink wat die gevolge op
kinders kan wees. So kyk asseblief na jou huwelik en maak die band baie
heg voordat jy immigreer!
Het u dalk behoefte aan berading? Kontak een van die volgende SAners vir
hulp - Almal praat Afrikaans.
Ds. Johan Hendricks (Leraar van die Afrikaanse Christen Kerk van NZ in
Hamilton) - Christelike berading.
e-Pos:
johan@ackhamilton.co.nz
Tel:(07) 855 3329
Sel: 021
233 1785
Webwerf:
www.ackhamilton.co.nz
|
|

|
|
AFRIKAANSE TAAL EN KULTUUR
IN NZ
AFRIKAANS is nog springlewendig in New Zealand en hoewel ons 'n paar
aanpassings vir plaaslike dinge, goeters en plekname moes maak is alles
klopdisselboom.
Daar bestaan heelwat Afrikaanse organisasies, klubs, kerke, ens. wat 'n
reuse bydrae maak tot die voortbestaan van Afrikaans en die kultuur van
alle SAners in NZ EN wat die pyn van die vreemde en aanpsssing darem so
'n bietjie verlig.
Daar is omtrent in elke streek of groot dorp of stad in NZ 'n Afrikaanse
klub, organisasie of kerk wat poog om die SAners bymekaar te bring. Die
grootste Afrikaanse organisasie in NZ is die Afrikaanse Klub van
Nieu-Seeland in Auckland. Weekliks stuur die klub ook 'n nuusbrief,
genaamd "Brokkies" uit na ongeveer 1600 persone en die "Brokkies" word
hier by ons afgewag met dieselfde opgewondenheid as die Huisgenoot!
Skryf gerus in op die "Brokkies" (jy hoef nie in NZ te bly nie) deur die
Afrikaanse klub te kontak by Die.Afrikaanse.Klub@clear.net.nz . As jy in
NZ bly en jy ontvang nie die "Brokkies" en die nuusbrief "Uit-maar-Tuis"
nie, dan is jy in die duisternis oor wat die SAners aanvang! Ander klubs
vir SAners se aktiwiteite kan jy gaan opsoek op die volgende webwerwe:
www.sanztrust.org.nz (Goeie webwerf met BAIE inligting.) Gaan kyk ook op
my SKAKELS blad vir baie meer skakels.
Verskeie Afrikaanse kerke bestaan ook en in die "Brokkies" sien jy
weekliks verskeie Afrikaanse kerke hulle dienste en dienstye aankondig.
Die grootste Afrikaanse kerk in NZ is die Afrikaanse Christenkerk van
Nieu-Seeland met ongeveer 1200 lidmate in 4 Gemeentes (2 Gemeentes in
Auckland, 'n gemeente in Hamilton (met 'n plaaswyk) en die nuutste
gemeente in Rotorua). Die Afrikaanse kerke speel ook 'n groot rol in NZ
om SAners saam te bind en vir hulle 'n geestelike en kulturele tuiste te
bied.
Webblaaie waar jy meer kan lees oor die Afrikaanse kerke in NZ is:
www.afrchristenkerk.co.nz (Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland)
http://www.ackhamilton.co.nz/ (Hamilton Gemeente van die ACK van NS)
http://www.ackwellington.co.nz/ (Wellington Gemeente van die ACK van NS)
www.ackchristchurch.co.nz (Christchurch Gemeente van die ACK van NS)
Immigrante wie inskakel by die kerke en Afrikaanse organisasies vind ook
dat hulle landing hier in die vreemde soveel sagter is en dat die
verlange darem so 'n bietjie minder is, want hulle het dadelik 'n
ondersteuningsnetwerk en ook soveel meer geleenthede om geholpe te raak.
Baie SAners se verskoning hoekom hulle nie by die kerke en organisasies
betrokke is nie is dat ons Afrikaners maklik "klieks" vorm wat mense
vervreem. Dit is so, jy kry dit in SA en jy kry dit ook hier, jy sal
nooit wegkom daarvan nie, maar Klieks is by verre in die minderheid en
die oorgrote meerderheid van mense is maar net doodgewone SAners wat wil
help en lekker saam kuier!
|
|

|
|
INTERESSANTE REALITEITE VAN IMMIGRASIE
Dit is BAIE keer die vrou se kwalifikasies wat SAners toegang tot NZ gee
(verpleegsters, onderwyseresse, dokters, ens) en dit is so algemeen dat
die manne dan die huishouding oorneem dat dit maar net aanvaar word as
nog 'n feit van immigrasie. Soms vat dit maande voordat die man werk kan
kry of heropleiding gekry het om 'n nuwe werk/beroep in NZ te begin. In
meeste gevalle vind die omruiling van rolle redelik pynloos plaas en
spring die manne gou in om die tradisionele "huisvrou" rol te vervul,
want die realiteite dikteer. In 'n minderheid van gevalle is die omruil
van die rolle BAIE pynlik en sal ek nou maar nie daarop ingaan nie.
Dit is werklik nie snaaks om die manne te sien inkopies doen, kinders
skooltoe te vat, koskook, skoonmaak en was nie. Soms ruil ons selfs
resepte uit!!
ALMAL moet hier uitspring en help, want daar is nie 'n huishulp of
tuinwerker nie en dit verg soms fyn beplanning en 'n hele
her-organisasie van die gesin en bedrywighede. Werk word gewoonlik
versprei deur 'n rooster in die huis wat bepaal wie wat sal doen en
wanneer.
Gelukkig het 99% van huise 'n skottelgoedwasser en is
skottelgoed was NIE die grootste probleem nie. Tuinwerk, grassny, was,
stryk en stofsuig is die grootste probleme in ons huis ,want daar is
ALTYD een wat kla oor die werk wat hy/sy gekry het!! Selfs na 10 jaar
stoei ons nog soms, maar aan die einde kom alles darem gedaan as elkeen
sy deeltjie doen. Soos ek altyd vir my kinders sê: "Jy hoef nie daarvan
te hou om dit te kan doen nie - doen dit net!"
|
|

|
|
SA PRODUKTE IN NZ - OOK BOEREWORS, BILTONG &
DRÖEWORS!!
In die meeste groter plekke hou die groter supermarkte nou die BASIESE
SA produkte aan soos mieliepap, mayonaise, Pro Nuto, vyekonfyt, Aromat
,ens. en is dit nie 'n probleem om dit in die hande te kry nie.
Boerewors kry jy in omtrent elke groot supermark - dit smaak nie aldag
soos ons boerewors nie, maar darem......! In plekke soos Auckland en
Hamilton is slaghuise (van ex-SAners) wat vir jou REGTE boerewors,
biltong en dröewors met die koerier sal stuur waarookal jy mag wees.
By die GEELBLADSYE van die Afrikaanse Klub sal jy ook by "KOS" 'n
swetterjoel plekke kry waarvandaan jy SA produkte en wyn kan bestel of
gaan koop. Hier is ook 'n paar besighede wat SA produkte aanhou:
Die Suid Afrikaanse Winkels in Browns Bay, Howick en Orewa. In Auckland
is die winkels by 170 Wellington Street (hoek Elliot), Howick, tel 533
7085 of by 74 Clyde Road, Browns Bay, tel 479 3647. In OREWA is die
winkel by Shop 5, Moana Court, 350 Hibiscus Highway, Orewa, tel 09 421
0554. Webblad:www.saproducts.co.nz
In HAMILTON by Elite Meats van Wykie Etsebeth sal jy 'n magdom SA
produkte kry en puik diens in Afrikaans. Besoek asseblief die webwerf
van Elite Meats vir meer besonderhede en kontaknommers - daar is ook 'n
kaart van waar om die slaghuis te vind.
|
|

|
|
MAAK 'N GOED INGELIGTE BESLUIT
Die rooi mat van immigrasie na NZ eindig by die lughawe as jy daar
afklim en daarvandaan is jy op jouself aangewese. Immigrante kan ook nie
reken op die steun van hulle werkgewers nie, so sorg dat jy so vêr
moontlik op jou eie stoom kan reg kom.
As jy kom moet jy kom om permanent te bly en dit nie net sien as 'n
proeflopie om te kyk of jy dit gaan maak nie. Doen jou Huiswerk goed!
Kom hou vakansie hier en kry vir jou werk of ten minste ‘n werksaanbod -
daarsonder hoef jy nie eens aansoek te doen nie.
Die meeste van ons kan net EEN keer bekostig om te immigreer en as jy ‘n
fout gemaak het sit jy hier op hierdie twee eilandjies en gaan jy vir
minstens vyf jaar "suffer" voordat jy kan verskuif. Kom met ‘n oop
gemoed en moenie vooropgestelde idees hê van hoe dit gaan wees nie.
Geniet die ervaring en geniet die lewe van dag tot dag.
NZ is ‘n fantastiese plek, maar as jy ‘n mens is met baie ambisies en
groot drome kan jy baie beter doen op ander plekke en is NZ beslis nie
vir jou nie! Die NZ komediant, Benjamin Crellin, het dit knap raak gevat
toe hy gesê het: "Everyone in New Zealand wants to move up, but there is
nowhere to move up to!!"
Ek wil graag hierdie webwerf gebruik om Suid-Afrikaners wat immigrasie
na NZ oorweeg 'n oorsig te gee van die werklikheid en heersende
toestande in NZ. Te veel mense wat hier voet aan wal sit kom na die
"vakansiebrosjure" New Zealand toe en is na 'n paar maande baie
teleurgesteld en sielsongelukkig.
Ons is baie gelukkig hier, NZ Burgers, goed gevestig en sal nie weer na
SA terugkeer nie.
Win ASSEBLIEF so veel inligting as moontlik in voordat jy die groot
besluit neem om te immigreer, want dit is die enigste manier waaarop jy
die regte besluit gaan neem. Immigrasie issie vir sissies nie, maar
verkeerde besluite het al helde laat val!!
Die Leuse van NZ immigrasie is : "New Zealand the right choice", maar as
jy nie voorbereid was nie gaan jy baie lank oor jou "wrong choice" huil.
|
|

|
|
WAT IS DIE KIWI's SE SIENING VAN SUID-AFRIKANERS?
Daar is deesdae baie min Kiwi's wie nie dink SAners is arrogant en
aggressief nie. Dit voel ook vir my asof die houding van SAners die
afgelope 2 jaar of so ernstig agteruit begin gaan het, want voorheen het
jy so hier en daar gehoor van 'n SAner wie sy naam gat gemaak het, maar
deesdae kom dit vry algemeen voor en soms voel jy om in die grond weg te
sak as jy hoor hoe sommige SAners hulle gedra.
Dit is erg ontstellend om te verneem dat ons gashere ons in sulke
negatiewe terme sien. Ek weet nie waar dinge verkeerd geloop het nie,
maar dit lyk vir my asof 'n mens deesdae min goed in SA regkry as jy nie
konfronterend en aggresief is met 'n woordeskat wat daarby pas nie en
daardie houding bring SOMMIGE immigrante met hulle saam as hulle
immigreer.
In NZ help dit niks om luidkeels aan die vloek en skel te gaan en 'n
"tantrum" te gooi as jy nie jou sin kry nie en dinge gebeur nie vinniger
omdat jy aggressief is nie! Al wat jy regkry is om dinge vir die ander
immigrante BAIE moeiliker te maak en SAners in die algemeen 'n swak naam
te gee.
In sommige gevalle wil dit lyk asof geld party SAners laat dink dat die
hele wêreld voor hulle moet neerbuig! In die meeste gevalle van
onmanierlike optrede lyk dit my is dit pleinweg net 'n gebrek aan
opvoeding en goeie maniere.
SAners begin deesdae hier werk en wil sommer dadelik die baas wees of
soos een kiwi dit die anderdag stel - "The Wise-ass or Clever Dick at
work is usually a South-African!". Dis vreeslik om dit te moet hoor en
dryf my tot drank.
'n Kiwi-vriend van my wie by 'n bekende personeelagentskap werk wat vir
baie SAners werk vind in NZ het 'n week of wat gelede vir my gesê dat
sommige SAners (veral sommige AFRIKANERS) voorheen ietwat van 'n
"attitude" probleem gehad het, maar dat dit nou vereger het en dat
SAners nou meer van 'n "ALTITUDE" probleem het as 'n "ATTITUDE"
probleem. Die "ALTITUDE" probleem het ek die afgelope jaar of wat
gereeld en deeglik aan my bas ervaar en dit lyk of sommige SAners dink
die rooi tapyte moet uitgerol word en Engelekore moet begin sing sodra
hulle hier aan wal stap! Dis soms so pateties om te sien hoe hoog hulle
hul self ag dat jy kan naar word daarvan.
NB: Ter verdediging van ons mense moet ek ook sê dat dit wat die Kiwi's
BAIE keer by SAners sien as Arrogansie en Aggressie is eintlik meer
AMBISIE en KOMPETISIE ,want ons kom uit 'n Wêreld waar jy net eenvoudig
die BESTE moet wees en die beste moet lewer om te oorleef en dit bestaan
nie in die Kiwi's se wêreld nie.
|
|

|
|
UITERS NEGATIEWE GESINDHEID
Ek sien gereeld op heelwat forums van SA koerante en tydskrifte
verskriklike negatiewe konflikte gesien tussen SA ex-pats en mense wie
nog steeds in SA bly, daarby maak ons dit ook ons werk om die mense tuis
in SA te demoraliseer. HOEKOM? In my boek is die ouens wie in SA
agtergebly het die ware helde, want hulle moet elke dag al die negatiewe
dinge trotseer om 'n lewe te kan voer en dan nog OOK met die str...t
opgeskeep sit wat die ex-pats hulle wil voer.
NOU WAT DOEN ONS?
Ons versamel al wat negatiewe berig is oor SA en druk dit in die kele af
van ons familie en vriende wie in SA agtergebly het. Dit is ook heel
maklik, want ons het teen belaglike lae koste vrye en onbeperkte toegang
tot die Internet en ons lees elke moontlike koerant en stukkie inligting
oor SA. Ons weet baie keer van nuus waarvan baie mense in SA nie eens
weet nie en omdat ons 10-11 ure in tyd voor SA is lees ons baie kere
nuus op die Internet nog voordat die eerste oggendkoerante in SA uit is.
Moenie ‘n fout maak nie, SA immigrante in NZ is TEN VOLLE op hoogte met
wat in SA aangaan. Dit is verseker! Op enige dag sal vele negatiewe
berigte oor SA sommer vanself per e-mail deur die elektroniese
“grapevine” op jou rekenaar beland – jy hoef nie eens daarvoor te gaan
soek nie.
Ons versamel gewoonlik hierdie sappige stukkies negatiewe nuus oor SA in
een groot lêer en laat dit los op ons familie en vriende in SA soos ‘n
reuse elektroniese trosbom en..................... voel dan baie trots
op onsself! Ons wend ons selfs deesdae ook skaamteloos tot
Internetforums en het dan niks anders om te doen as om gif te strooi oor
SA nie, pleks ons help eerder en praat die mense moed in!
Wat ookal ons verskeie motiewe is om dit te doen en wat ons ookal MAG
dink ons daardeur bereik, bereik ons meestal net die volgende:
Verlaag die GATVOL-indeks van SAners vir ex-pats.
Verhoog die angstigheidsvlakke van ons vriende en familie in SA.
Bevestig die vermoede by hulle dat ons windgat en verwaand is en net
“cheap” wil brag oor ons nou uit die vuur is.
Bou ‘n intense wrewel teen expats op in die mense wat in SA “agtergebly”
het en daagliks die geveg moet veg teen die verskriklike goed waarmee
ons hulle bombardeer.
Dis net geen wonder dat sekere familie en vriende nie meer vir ons wil
skryf of bel nie, want al wat ons geword het is “doomsday prophets”!. As
ons maar soveel geld vir ons mense stuur soos stront e-mails of
forum-diarree sal ons dalk baie meer aan hulle situasie kan doen en ek
dink tot tyd en wyl ons beter kan doen moet ons maar eerder ons bekke
hou!
Dis net so goed ons bel die jode in ‘n konsentrasiekamp in Duitsland en
vertel hulle hoe benard hulle situasie is! DINK ONS HULLE WÉÉT DIT
NIE??!!
|
|

|
|
BOEREWORSRESEP vir BOEREWORS "PATTIES"
Nou sal julle ook seker wonder wat 'n boereworsresep hier soek, maar dis
nou uitsluitlik vir gevestigde immigrante wat op klein plekkies bly waar
hulle nie so maklik boerewors kan koop soos ons nie en ook nie 'n
vleismeul en worsderms het nie. Aan die begin van ons immigrasie was
boerewors so skaars soos hoendertande en kon jy net lekker boerewors
gekry het as jy die slag Auckland toe gegaan het. Ek en my neef Henry
Enslin het toe met verskeie boerewors resepte begin eksprimenteer (sien
die storie "Chilliwors").
Ons het 'n lekker en eenvoudige resep saamgeslaan uit die dosyne resepte
wat ons gekry het en hierdie resep het net speserye in wat jy sommer by
jou plaaslike supermark (of Chinese winkel) kan koop. Die wors sal seker
nie pryse wen nie, maar dit gaan heeeeeel goed af!!
Oor worsmaak so 'n vreeslike besigheid is maak ons deesdae net "patties"
van die vleis of sit die worsvleis in 'n skilferkorsdeeg vir vingerlek
lekker vleispasteitjies.
Die resep is vir 2 Kilogram maalvleis. Die lekkerste "patties" kry jy
van 'n mengsel van bees-en vark maalvleis. As jy 1 Kilo bees en 1 Kilo
vark meng kry 'n ongelooflike lekker pattie wat nie heeltemal so droog
is nie. Die enigste probleem as jy net "Prime Beef mince" gebruik is dat
die pattie effens droog is, daarom is daar 200ml sonneblomolie in die
resep. Eksperimenteer maar self met die bestanddele.
RESEP:
2 Kg beesmaalvleis of 1 Kg bees en 1 Kg vark.
10 gram Aromat of MSG (Monosodium Glutamate) - (Kan uitgelos word as jy
nie het nie).
12 gram gemaalde koljander (probeer om die koljander self te maal - ek
gebruik sommer die elektriese koffiemeultjie en spoel hom dan vinnig uit
as ek klaar is - maak my vrou baie moedeloos!).
¾ - Driekwart gelykvol teelepel fyn naeltjies ("Cloves").
¾ - Driekwart gelykvol teelepel fyn neutmuskaat ("Nutmeg").
1½ - Een-en 'n half teelepel fyn swart peper.
30 gram sout.
200 ml moutasyn ("Malt vinegar").
200 ml sonneblomolie (as die vleis min vet het).
Meng alles saam, laat staan so 30 minute en maak lekker "patties" of
vleispasteitjies.
Geniet dit!!
PS: Omtrent al die SA slaghuise in Auckland sal vir jou boerewors met 'n
oornag koerier stuur as jy dit bestel.
Ons vriendelike SA slaghuis in Hamilton (www.elitemeats.co.nz) sal vir
jou die lekkerste biltong, droëwors, chillibites, boerewors, ens. oornag
koerier na enige plek in NZ. Bel hulle net.
|
|

KONTAK MET SUID-AFRIKANERS IN NZ
As jy wil kontak maak met SAners in NZ of verlore
vriende of familie in NZ soek
|
 |
| |
| |
| |
| |